Fudge het so suutjies op ‘n gewone dag midde-in ‘n hittegolf in ons lewe gekom. Die vuil, verboureerde bruin brak, tou te styf om die nek. Pootjies deurgeloop, lyfie vol seerplekke netso in die straat laat lê “om te leer”. Gelukkig stop my vriendin en haar man, neem terstond die brak by die boemelaar af. By die huis, nadat Fudge rustig geslaap het na ‘n bad (nodig teen die vuil en stink), ‘n bak kos wat hy gulsig verorber en groot slukke water, tref die besef haar – hulle het alreeds 4 hondekinders. Wat nou van hierdie bondeltjie?

Nou ja, ‘n mens het mos nie verniet vriendinne wat altyd bereid is om jou by te staan deur dik en dun nie…. En nou is Fudge deel van ons Vorster gesin. Saam met 3 worsies wat o, geensins beïndruk is met hierdie toedrag van sake nie.

Gou is die sprokie op ‘n end en het Fudge sy uitputting in 3 dae afgeslaap – soos deur die veearts voorspel tydens sy ondersoek op pad na sy nuwe huis.

Ons bruin straatbrak blyk ‘n Rifrug te wees, met ‘n groot leë maag, hope en hope energie, geweldig intelligent, en, helaas, ‘n aandagspan so lank soos ‘n vuurhoutjie…… Op aanbeveling van Skoonsus word die Pretoria Shepherd Dog Club genader en voortaan is ons Woensdagaande van 6uur af by die Puppy Class.

Tania is ‘n wonderlike leermeester; die honde het ‘n heilige ontsag vir haar (die eienaars lyk my, ook). Gou word ons aan mekaar voorgestel, die honde se leibande word losgemaak tydends die sosialiseringsessie en ontaard die versigtige gesnuif en karnuffel in ‘n grootskaalse gespeel en rondhardlopery – beslis die hoogtepunt vir die vierpotiges!

Aand vir aand word ons geduldig deur die verskillende stappe geneem, van hoe om op die regte manier met jou hond aan ‘n leiband te stap, bevele soos sit, bly, sit-voor. (Fudge het natuurlik lankal belangstelling verloor en neem so hier en daar erg verveeld deel)

Volgende op die program is die hindernisbaan – ek was verbaas hoe gou die honde die aksies snap en lustig meedoen. Almal sukkel en haak vas die een of ander tyd, en met groot geduld en aansporing van Tania se kant, kry ons brakke naderhand alles redelik onder die knie. (Hierdie is Fudge se gunsteling aktiwiteit, naas die sosialisering)

Na nog ‘n sosialiseringsessie, word ons eers rustig in die klubhuis en gesels Tania met ons oor voeding, versorging van jou troeteldier, inentings, ensovoorts; terwyl die meeste hondekinders in ‘n salige slapie wegsink na al die opwinding.

Ek is dankbaar dat my pad met die van die Pretoria Shepherd Dog Club gekruis het, ek en Fudge het al heelwat by Tania en die mede studente geleer. Ek sal hulle beslis aanbeveel. ‘n Mens kan deesdae op baie min plekke in ‘n veilig omheinde omgewing behoorlik aandag aan jou diere gee. Kundige raad en advies is altyd byderhand. Wanneer dit donker begin word, is daar voldoende beligting en die voertuie is boonop veilig.

Net gister lees ek dat die Rifrug ongeveer 3 jaar lank ‘n adolossent is – so ja, Tania, ons gaan jou beslis nog ‘n rukkie nodig hê…..

 

ANNELIZE EN FUDGE